’n Sabeltandkat,[1] soms ook verkeerdelik ’n sabeltandtier genoem,[2][2] is enigeen van verskeie groepe roofsoogdiere wat gekenmerk word deur besonder lang, sabelvormige slagtande. Die tande steek uit al is die dier se bek toe. Sabeltandkatte het wêreldwyd voorgekom van die Eoseen-epog tot aan die einde van die Pleistoseen-epog (42 miljoen tot 10 000 jaar gelede).[3][4][5] Die bekendste spesies was dié van die genus Smilodon.
Ondanks die woord "kat" in hul naam, was die diere nie naby verwant aan moderne katte nie. Hulle behoort eintlik tot drie verskillende biologiese ordes: Carnivora, Creodonta en die uitgestorwe orde Sparassodonta, wat verwant is aan die infraklas Marsupialia (wat onder meer kangaroes en koalas bevat) eerder as aan die lede van Placentalia soos die ander twee ordes.
Die Nimravidae (Carnivora, suborde Feliformia) is die oudste; hulle het sowat 42 miljoen jaar gelede hul verskyning gemaak en 7,2 miljoen jaar gelede uitgesterf. Barbourofelidae (van dieselfde suborde) het bestaan van 16,9 miljoen tot 9 miljoen jaar gelede. Hulle sou saam in sommige habitats voorgekom het.