Salvatore Riina

Salvatore Riina
Salvatore Riina ná een van sy inhegtenisnemings.
Salvatore Riina ná een van sy inhegtenisnemings.
Gebore  (1930-11-16)16 November 1930
Corleone, Sisilië, Italië
Oorlede  17 November 2017 (op 87)
Parma, Emilia-Romagna, Italië
Land  Vlag van Italië Italië
Bynaam  Totò 'u Curtu ("Totò die Korte")
La Belva ("Die Monster")
Il Capo dei Capi ("Die Baas van Base")
Beroep  Mafiabaas
Misdaadbesonderhede
Misdaad  Mafiabande,
verskeie moorde
Beweging  Sisiliaanse Mafia
Voorganger  Luciano Leggio
Opvolger  Leoluca Bagarella
Vonnisbesonderhede
Aangekeer  15 Januarie 1993
Vonnis  Lewenslange tronkstraf
(verskeie lewenslange vonnisse)
Status  Oorlede

Salvatore "Totò" Riina (16 November 1930 – 17 November 2017) was ’n Italiaanse mafioso en hoof van die Sisiliaanse Mafia. Hy is bekend vir sy hartelose moordveldtog wat in die vroeë 1990's ’n hoogtepunt bereik het met die moorde op die anti-Mafiamagistrate Giovanni Falcone en Paolo Borsellino. Dit het gelei tot ’n openbare protes en ’n groot aanslag deur die owerhede. Hy was ook bekend onder die byname Totò 'u Curtu (Totò die Korte; Totò is die verkleiningsvorm van "Salvatore"), La Belva ("Die Monster") en Il Capo dei Capi ("Die Baas van Base").

Riina het Luciano Leggio in die vroeë 1980's opgevolg as baas van die Corleonesi-misdaadfaksie en het oorheersing oor die Sisiliaanse Mafia verkry met ’n veldtog van geweld. Hy het vroue en kinders laat vermoor, asook onskuldige lede van die publiek net om wetstoepassingsagentskappe se aandag af te lei. Die moordenaar Giovanni Brusca het geraam hy het 100 tot 200 mense namens Riina vermoor. Hoewel hierdie verskroeide-aarde-beleid interne bedreigings uit die weg geruim het, het hy sy organisasie openlik met die staat laat bots. Nadat hy 23 jaar lank ’n voortvlugtige was, is hy in 1993 in hegtenis geneem. Dit het gelei tot ’n reeks bomaanvalle deur sy organisasie op kunsgalerye en kerke op die vasteland van Italië. Weens sy algehele gebrek aan berou is hy tot met sy dood onder die strengste moontlike omstandighede aangehou.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne