Die samesmelting van sterrestelsels kan gebeur wanneer twee of meer sterrestelsels bots. Hulle is die gewelddadigste soort wisselwerking tussen sterrestelsels. Die swaartekragwisselwerkings tussen sterrestelsels en die wrywing tussen die gas en stof het 'n groot uitwerking op die spesifieke sterrestelsels, maar die presiese uitwerking van sulke samesmeltings hang af van 'n groot verskeidenheid parameters, soos botsingshoek, snelheid en die relatiewe grootte/samestelling. Dié aspekte word tans ondersoek.
Die samesmelting van sterrestelsels is belangrik, want die tempo van samesmelting is 'n basiese aanduiding van die evolusie van die stelsels. Dit gee sterrekundiges ook 'n idee van hoe sterrestelsels oor lang tydperke hulle huidige vorms aangeneem het.[3]