Die Sataniese Verse is woorde van "sataniese suggestie" wat die Islamitiese profeet Mohammed na bewering misverstaan het as goddelike openbaring.[1] Volgens dié vertelling het Satan aan Mohammed gesê om woorde by die Koran te voeg wat Moslems in staat sou stel om te bid vir die voorspraak van die drie heidense godinne Laat, Oezza en Manaat. Die vertelling kan gevind word in die vroeë profetiese biografieë van Mohammad deur al-Wāqidī en Ibn Sa'd en die tafsir van al-Tabarī. Die eerste gebruik van die uitdrukking "Satanic Verses" in Engels word toegeskryf aan sir William Muir in 1858.[2]
Die frase wat Arabiese historici en latere Moslems gebruik het om die voorval van die onttrekte verse te beskryf was nie "Sataniese Verse" nie, maar die gharāniq-verse. Die frase Sataniese Verse was onbekend aan Moslems en is geskep deur Westerse akademici wat spesialiseer in die studie van kulture wat as oosters beskou word. Die storie self word nie aangetref in Islamitiese bronne nie, en Muraghi sê in sy kommentaar: "Dié tradisies is ongetwyfeld 'n versinsel van ongelowiges en buitelanders en word nie in enige van die oorspronklike boeke aangetref nie."[3][4] Daniel Pipes sê as die aandag gevestig word op 'n boek met dié titel, "beskou Moslems dit as ongelooflik heiligskennend" en as 'n implikasie dat die skrywer van die boek beweer van die verse in die Koran is "die werk van die duiwel".[5]
Sommige moderne geleerdes van Islamitiese studies glo die voorval is waar, omdat dit onmoontlik is om te glo vroeë Moslemse biograwe sal so 'n onvleiende storie oor hulle profeet opmaak.[6] Alford T. Welch meen egter dié redenasie is nie genoeg nie, maar dit sluit nie die moontlikheid uit dat daar 'n sekere mate van historiese basis aan die storie is nie.[7]
Godsdienstige gesagsfigure het die storie vir die eerste twee eeue van die Islamitiese tydperk aanvaar. Aan die begin van die 13de eeu het Islamitiese geleerdes dit begin verwerp omdat dit nie ooreenstem met Mohammed se "perfeksie" ('isma) nie – wat beteken hy kon nie deur Satan geflous word nie.[1]