Die saturniese vers of versus saturnius is 'n ou Latynse versvorm. Volgens die Romeinse mitologie was die god Saturnus die eerste koning van Latium. "Saturnies" verwys dus na die oeroue oorsprong.
Die eerste ongeskrewe en mondelings oorgelewerde Carmina (d.i. Liedere) van die Latynse literatuur was miskien in Saturniese meter gegiet. Sommige Saturniese verse deur die digters Livius Andronicus en Naevius het behoue gebly. Dit is enigsins voldoende om die struktuur daaruit af te lei. Met Quintus Ennius het die Romeine oorgeskakel na die Griekse heksameter en die Saturniese vers het ouderwets geword.
Die Saturniese vers was nie gebaseer op rym nie, ook nie op die wisselwerking van lang en kort lettergrepe nie, maar moes basies so gelyk het: twee tweelettergrepige woorde, gevolg deur drie drielettergrepige woorde, met 'n kort rusperiode na die eerste drielettergrepige woord. So skematies dus:
xx / xx / xxx // xxx / xxx
vb. "Virum mihi, Camena, insece versutum" (sien Livius Andronicus)
Die taamlik primitiewe struktuur dui op 'n moontlike Indo-Europese oorsprong.