Die Sentinelese (ook genoem die Sentineli of Noord-Sentineleilanders) is die inheemse volk van Noord-Sentineleiland in die Andaman-eilande van Indië. Hulle beveg enige kontak met die buitewêreld en is ’n geïsoleerde volk, hoewel daar al beperkte kontak met hulle was.[3]
Die bevolking word geraam op 15 tot 500. In 2001 het amptenare van die Sensus van Indië[4] 21 mans en 18 vroue aangeteken. Dié opname is van ’n afstand gedoen en is dalk nie ’n akkurate weergawe van die eiland van 59,67 km2 se bevolking nie.[5] In die 2011-sensus is 12 mans en drie vroue getel.[1] Die gevolge van die aardbewing en daaropvolgende tsoenami in 2004 in die Indiese Oseaan is onbekend, behalwe bevestiging dat hulle die onmiddellike gevolge oorleef het.[6]
Die Oostenrykse skrywer Heinrich Harrer het een man beskryf as sowat 1,6 m lank en oënskynlik linkshandig.[7]