Sergei Rachmaninoff | |
---|---|
Agtergrondinligting | |
Gebore | 1 April 1873 Nowgorod-oblast, Russiese Ryk |
Sterf | 28 Maart 1943 (op 69) |
Genres | Romantiek |
Beroep(e) | Komponis, pianis, orkesleier |
Instrumente | Klavier |
Sergei Vasilievich Rachmaninoff (Russies: Серге́й Васи́льевич Рахма́нинов; IFA: [sʲɪrˈɡʲej rɐxˈmanʲɪnəf]; 1 April 1873 – 28 Maart 1943) was 'n Russiese pianis, komponis, en orkesleier van die laat romantiektydperk.
Sergei Wasiljewitsj Rachmaninof (1873- 1943) is op Oneg, naby Nowgorod, gebore. Hy was die seun van 'n kaptein van die Keiserlike Wag en 'n afstammeling van ʼn adellike en gegoede familie. As jeugdige het hy 4 jaar lank in Moskou by sy leermeester, Nikolai Sverof, gaan woon.
As student het hy die opera Aleko en die klavierstukke Opus 3, wat die beroemde Prelude in C-kruis-mineur bevat, gekomponeer. Sverof se streng dissipline oor die jong Rachmaninof het meegebring dat hy een van die grootste klaviervirtuose van die 20e eeu geword het. Die eerste uitvoering van sy Tweede Klavierkonsert in C-mineur in Moskou in 1901 was 'n groot sukses.
In 1906 het hy en sy gesin in Dresden gaan woon, waar hy die Tweede Simfonie (1907), die simfoniese gedig Die eiland van die dood (1909) en die Derde Klavierkonsert in D-mineur (1909) gekomponeer het. Laasgenoemde werk het hy spesiaal vir sy eerste konsertreis in die VSA geskryf. Van 1910 tot 1917 het Rachmaninof weer in Moskou gaan woon, waar hy dikwels simfoniekonserte gedirigeer het.
Die belangrikste werk van sy tweede verblyf in Moskou was sy koorsimfonie, Die klokke. Die revolusie van 1917 het hom in so 'n mate van sy land vervreem, dat hy en sy gesin Rusland verlaat en hulle permanent in die VSA gevestig het.
Die kwarteeu wat hy in die VSA gewoon het, is hoofsaaklik aan konsertreise daar en in Europa gewy. Die enigste belangrike komposisies uit hierdie tydperk is die Rapsodie op 'n tema van Paganini (1934) en die Derde Simfonie (1936). Tydens 'n konsertreis het hy skielik siek geword en op 28 Maart 1943 is hy in Kalifornië oorlede.