Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
Die Seven Sisters is 'n reeks wit kranse langs die Engelse Kanaal. Hulle maak deel uit van die South Downs, 'n reeks van krytheuwels wat oor 'n gebied van 670 km² (260 vierkante myl) in drie graafskape langs die suidweskus van Engeland strek (Hampshire, Wes- en Oos-Sussex) - vanaf die Itchen Valley in Hampshire in die weste tot Beachy Head in Oos-Sussex in die ooste. Sowat 8 500 jaar gelede het die krytlandskappe nog tot Frankryk gestrek voordat reusegolwe van seewater die Engelse Kanaal gevorm en Groot-Brittanje van die vasteland afgesny het.[2]
Die Seven Sisters is in die Nasionale South Downs-park geleë wat deur die Kanaalkus, die Cuckmere-rivier en die A259-pad begrens word. Die kranse is die oorblyfsels van droë valleie in die South Downs wat oorspronklik deur riviere in die krytrots gesny is en tans geleidelik deur die see geërodeer word. Die Seven Sisters Country Park, wat in die oostelike hoek van die nasionale park gestig is, is tans 'n gewilde bestemming vir uitstappies. Staproetes langs die kranse lei na die vuurtoring Belle Tout en die klein gehuggie Birling Gap wat intussen deur erosie van sowat een meter per jaar bedreig word (en waar enkele huise al verlore gegaan het). Hier bied 'n trap toegang tot die strand wat 'n uitsig oor die Seven Sisters bied. Enkele honderd meter verder landinwaarts is die bosgebied Friston Forest geleë wat gewild is by staptoeriste en bergfietsentoesiaste.
Terwyl veerbootpassasiers uit Calais die wit kranse van Dover as die eerste punt van die eiland Groot-Brittanje waarneem, is dit vir reisigers, wat in Dieppe aan boord gaan, die Seven Sisters. Die kranse van Dover word intussen kunsmatig begroen word om hulle teen verdere erosie te beskerm en sodoende hul kenmerkende wit kleur weens die plantegroei gedeeltelik ingeboet het, word die Seven Sisters in hul oorspronklike toestand bewaar. So word hulle dikwels in plaas van Dover se kranse as toneel vir televisiereekse en rolprente gekies.