Sint Petersburg Санкт-Петербург (Federale stad) | ||||
Kloksgewys van links bo: Sint Isak-katedraal troon bo die stad uit; die Fort van Petrus en Paulus; Paleisplein; Peterhof; Nefski-prospekt; die Winterpaleis. | ||||
Politieke status | ||||
Land | Russiese Federasie | |||
Federale distrik | Noordwestelike | |||
Ekonomiese streek | Noordwestelike | |||
Stigting | 27 Mei 1703 | |||
Regering | ||||
Leier | Georgi Poltawtsjenko | |||
Amp | Goewerneur | |||
Wetgewer | Wetgewende Raad | |||
Bevolking | ||||
Sensus | 2020 | |||
Totaal | 5 392 992[1] | |||
Volgorde | 4de | |||
Digtheid | 3 843,9/km² | |||
Statistiek | ||||
Oppervlakte | 1 439 km² | |||
Volgorde | 82ste | |||
Tydsone | UTC+04:00 | |||
Registrasienommer | 78, 98, 178 | |||
Amptelike tale | Russies | |||
Webtuiste | gov | |||
Wapen en vlag | ||||
|
Sint Petersburg (Russies: Санкт-Петербург; transkripsie: Sankt-Peterburg, [ˈsankt pʲɪtʲɪrˈburk], ) is ’n federale stad van Rusland, geleë in die Noordwestelike Federale Distrik aan die Newarivier oos van die Golf van Finland. Die stad, wat na tsaar Pieter die Grote se beskermheilige, die apostel Simon Petrus, genoem is en die Duitse naam Sankt Petersburg dra, het met die begin van die Eerste Wêreldoorlog, toe anti-Duitse gevoelens opgewek is, die Russiese naam Petrograd (Russies: Петроград) gekry en is later tot ere van Wladimir Lenin Leningrad (Russies: Ленинград) genoem. Ná die verbrokkeling van die Sowjetunie is in 1991 'n referendum gehou oor die stadsnaam. Sint Petersburg, wat deur sy bewoners dikwels kortweg Piter genoem word, het sy oorspronklike naam teruggekry.
Sint Petersburg is op 27 Mei 1703 gestig deur Pieter die Grote van die Russiese Ryk en was langer as tweehonderd jaar (1712–1728, 1732–1918) die land se hoofstad. Met 'n bevolking van 5,39 miljoen (soos op 1 Januarie 2020) is dit die tweede grootste stad in Rusland na Moskou, asook die vierde grootste in Europa na Londen en Parys. Sint Petersburg is een van Europa se vernaamste wetenskap-, kultuur- en nywerheidsentrums en ’n belangrike hawe aan die Baltiese See. Daarnaas is dit die wêreld se noordelikste miljoenestad.
Die "Venesië van die Noorde", soos Sint Petersburg – 'n stad wat op 42 eilande in die Newa-delta ontstaan wat deur meer as 400 brûe en talle kanale met mekaar verbind word – dikwels genoem word, was die resultaat van 'n grootskaalse stedelike bouprojek wat in 1703 onder tsaar Pieter die Grote begin is en slegs danksy die grootskaalse gebruik van dwangarbeiders – onder wie Russiese soldate, Sweedse en Ottomaanse krygsgevangenes – en Finse en Estniese werkers verwesenlik kon word. Hierdie mense het in minder as twintig jaar 'n stad voltooi wat, volgens die ontwerp van die Franse boumeester en tuinontwerper Jean-Baptiste Alexandre Leblond (1679−1719), wat in 1716 as hoofargitek vir die Sint Petersburg-projek aangestel is, 'n onherbergsame kusgebied in 'n eersterangse Europese metropool met paleise, kerke en kloosters asook tweeverdiepingwoonhuise omgeskep het.
Tsaar Pieter die Grote se visie was om vir Rusland – destyds 'n uitgestrekte, maar agtergeblewe ryk – 'n "venster na die weste" te open om sy land toeganklik te maak vir die ontwikkelde Europa se ambagte, kuns en beskawing. As timmerman in Amsterdam het hy self onder die indruk van 'n moderne stad gestaan wat as voorbeeld vir sy nuwe regeringsetel sou dien – 'n vooruitstrewende metropool met seehawe, kanale en brûe.
Sint Petersburg se pragstraat, die Nefskij-prospekt met sy indrukwekkende Jugendstilfasades, die Russiese Museum en die Grand Hotel Europa, ding mee met Parys se Champs-Élysées en die Kurfürstendamm in Berlyn – en vir die digter Nikolai Gogol was hierdie laan die grootste aantreklikheid in Rusland se Oosseemetropool.
Sint Petersburg se argitektoniese erfenis verenig 'n verskeidenheid uiteenlopende boustyle soos barok-, rokoko- en suiwer neoklassieke boustyle met geboue soos die Admiraliteits-, Winter- en Marmerpaleis en die Hermitage. So is die historiese middestad tot Unesco-wêrelderfenisgebied verklaar.
Sint Petersburg was in die laat 19de en vroeë 20ste eeu, 'n dinamiese periode van ontwikkeling in die Russiese Ryk, die setel van die meeste banke en sodoende die spilpunt van Russiese kapitalisme en globalisering, waar sosiale klasse gevorm en maatskaplike mobiliteit begin het (maar ook grootskaalse verstedelikings- en transformasieprosesse aan die gang was – die oorgrote meerderheid van Sint Petersburgers in die jare voor die Groot Oorlog was voormalige boere), die bakermat van nuwe strominge in literatuur, argitektuur, musiek en skilderkuns, van Russiese massakultuur en van 'n lewendige burgerlike samelewing – prosesse wat van die stad omstreeks 1900 een van die sentra van Europese modernisme gemaak het en eers deur die Russiese Oktoberrewolusie in 1917, waarin die stad 'n sleutelrol gespeel het, skielik tot stilstand gedwing is.[2]
Ter geleentheid van sy driehonderdjarige jubileum in 2003 het Sint Petersburg sy status as een van Europa se groot metropole hervat.