Die Sishen-Saldanha-spoorlyn (soms ook na verwys as die OREX-lyn) is gebou as 'n swaarvragspoorlyn om ystererts van die myne op Sishen na Saldanhahawe te vervoer. Die lengte van die spoorlyn is 861 km en is in 1976 voltooi. Die spoorlyn is geëlektrifiseer en word bedryf as 'n 50 kV-wisselstroomspoorlyn.
'n Kombinasie van ses Klas 15E (elektriese) en drie Klas 34-diesel-elektriese eenhede trek treine met tot 342 trokke met 'n kapasiteit van 100 ton elk. Die kapasiteit van die spoorlyn was na indiensstelling 18 miljoen ton per jaar. Na 'n opgraderingsprojek is die kapasiteit tans 41 miljoen ton per jaar. Daar is tans ook 'n omgewingsimpakstudie onderweg om die kapasiteit na 95 miljoen ton per jaar te vergroot.[1]
Gedurende die week van 16 Julie 2009 is 'n rekord 919 000 ton ystererts tussen Sishen en Saldanha vervoer.[2]