'n Sonskerende komeet, dikwels net 'n sonskeerder genoem, is 'n komeet wat baie na aan die Son verbytrek met perihelium – soms binne 'n paar duisend kilometer van die Son se oppervlak af. Hoewel klein sonskeerders heeltemal kan verdamp tydens hulle naby-omwenteling om die Son, kan groot sonskeerders baie periheliumverbygange oorleef. Die sterk verdamping en getykragte wat hulle ondervind, lei egter dikwels daartoe dat hulle opbreek.
Tot die 1880's is geglo alle helder komete naby die Son is die herhaalde terugkeer van dieselfde sonskeerder. Die Duitse sterrekundige Heinrich Kreutz en die Amerikaanse sterrekundige Daniel Kirkwood het egter vasgestel elke verskyning is 'n ander komeet, maar dat hulle verwant is aan 'n groep komete wat van mekaar geskei geraak het tydens 'n vorige verbygang van die Son.[1] Baie min was bekend oor die populasie sonskeerders tot in 1979, toe koronograafwaarnemings die opsporing van sonskeerders moontlik gemaak het. Teen 21 Oktober 2017 was daar sover bekend 1 495 komete wat binne 'n afstand van ~12 sonradiusse (~0,055 AE) van die Son kom.[2] Dit is byna 'n derde van alle komete.[3] Die meeste verdamp tydens hulle nabyverbyvlug, maar 'n komeet met 'n kernradius van meer as 2-3 km sal waarskynlik sy perihelium oorleef met 'n finale radius van sowat 1 km.
Sonskeerders is van die vroegste komete wat waargeneem is omdat hulle so helder is. Sommige word selfs as Groot komete beskou. Die komeet sal nie net helder lyk omdat baie lig van die komeetkern weerkaats word nie, maar ook omdat so baie gas uit die komeet verdamp en die gas meer lig weerkaats. Dié verheldering kan daartoe lei dat die komeet met die blote oog van die Aarde sigbaar is, na gelang van omstandighede.
Dié komete is 'n waardevolle manier om meer van die samestelling van komete uit te vind terwyl ons die ontgassing waarneem en dis ook 'n manier om die uitwerking van die Son se straling op ander liggame van die Sonnestelsel na te vors.