St. Kitts en Nevis

Federasie St. Christopher en Nevis
Federasie St. Kitts en Nevis
Federation of Saint Christopher and Nevis
Federation of Saint Kitts and Nevis (Engels)
Vlag van St. Kitts en Nevis Wapen van St. Kitts en Nevis
Vlag Wapen
Nasionale leuse: Country Above Self
(Engels vir: "Land bo homself")
Volkslied: O Land of Beauty!
(Engels vir: "O land van skoonheid!")

Koninklike volkslied: God Save the King
(Engels vir: "God beskerm die koning")
Ligging van St. Kitts en Nevis
Hoofstad Basseterre

17°18′N 62°44′W / 17.300°N 62.733°W / 17.300; -62.733

Grootste stad Basseterre
Amptelike tale Engels
Regering

Monarg
• Goewerneur-generaal
Eerste minister
Federale parlementêre
grondwetlike monargie
Charles III
Dame Marcella Liburd
Terrance Drew
Onafhanklikheid
• Geassosieerde land
• van die Verenigde Koninkryk
• Huidige grondwet

27 Februarie 1967
19 September 1983
19 September 1983
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
261[1] km2  (211ste)
101 myl2
feitlik geen
Bevolking
 - 2024-skatting
 - 2011-sensus
 - Digtheid
 
55 133[1] (207de)
54 338
211 / km2 (64ste)
546 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2025-skatting

$1,793 miljard[2]
$37 396[2]

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2025-skatting

$1,223 miljard[2]
$25 514[2]

MOI (2022) 0,838[3] (51ste)  –  baie hoog
Geldeenheid Dollar (XCD)
Tydsone
 - Somertyd
AST (UTC-4)
nie toegepas nie (UTC-4)
Internet-TLD .kn
Skakelkode +1-869

St. Kitts en Nevis (Engels: Saint Kitts and Nevis, ), amptelik die Federasie St. Kitts en Nevis of Federasie St. Christopher en Nevis (Federation of Saint Christopher and Nevis of Federation of Saint Kitts and Nevis[4]), is 'n eilandstaat in Noord-Amerika met 'n oppervlakte van 261 km² en 'n bevolking van 55 133 in 2024.[1] Dit bestaan uit twee eilande: St. Kitts en Nevis wat albei aan die Klein-Antille behoort.

Nasa-satellietbeeld van St. Kitts en Nevis
Kaart van St. Kitts en Nevis

St. Kitts en Nevis is in die oostelike deel van die Karibiese See op die grens met die Atlantiese Oseaan geleë. Dit is in die suidooste van Sint Eustatius, Saba, Sint Bartolomeus, Saint-Martin/Sint Maarten en Anguilla, in die suidweste van Antigua en Barbuda en in die noordweste van Montserrat geleë. Die hoofstad en grootste stad is Basseterre, wat op die hoofeiland St. Kitts geleë is.

Die eilande St. Kitts en Nevis is in 1493 deur Christophorus Columbus tydens sy tweede reis vir Europa ontdek; hulle is onderskeidelik San Martín (vir Nevis) en Sant Yago (vir St. Kitts) genoem. Die naam van sy beskermheilige San Cristóbal is deur Christophorus Columbus nie aan St. Kitts gegee nie, maar aan die eiland Saba, sowat 20 myl verder noordwes. Dit het egter deur 'n karteringsfout by St. Kitts beland en die Engelse het die vertaling daarvan – St. Christopher – vir dié eiland gebruik. In die 17de eeu was "Kit(t)" 'n algemene bynaam vir Christophorus, waaruit St. Kitts vir dié eiland ontstaan het.

In 1623 het Engelse op dié eilande gevestig, binnekort gevolg deur Franse, en albei het saamgestem om dié eilande te deel. St. Kitts en Nevis het die beginpunt vir die kolonisasie van die Engelse en die Franse in die Karibiese gebied geword. Die Britte het vanaf hier Antigua en Barbuda, Montserrat en Anguilla gekoloniseer en die Franse Guadeloupe en Martinique. Tydens die laat 17de eeu het die Engelse en Franse oor die beheer van dié eilande gebaklei en dit is in 1713 deur Frankryk aan Engeland afgestaan. Tussen 1958 en 1962 het dit saam met ander Britse kolonies in die Karibiese gebied deel uitgemaak van die Wes-Indiese Federasie. Op 27 Februarie 1967 het St. Kitts en Nevis volle outonomie oor sy binnelandse sake ontvang en 'n geassosieerde land van die Verenigde Koninkryk geword.

Op 19 September 1983 het St. Kitts en Nevis van die Verenigde Koninkryk onafhanklik geword. St. Kitts en Nevis is 'n grondwetlike monargie binne die Britse Statebond en Charles III van die Verenigde Koninkryk is die staatshoof van dié land. St. Kitts en Nevis is die kleinste soewereine land in die Amerikas en die Westelike Halfrond, sowel volgens oppervlak asook bevolking. Dié eilande is gesogte vakansieplekke en die ekonomie is veral op toerisme gebaseer.[1]

  1. 1,0 1,1 1,2 1,3 (en) "Saint Kitts and Nevis". Central Intelligence Agency. Besoek op 11 Februarie 2025.
  2. 2,0 2,1 2,2 2,3 (en) "St. Kitts and Nevis". Internasionale Monetêre Fonds. Oktober 2024. Besoek op 11 Februarie 2025.
  3. (en) "Human Development Report 2023/2024" (PDF). United Nations Development Programme. 13 Maart 2024. Besoek op 11 Februarie 2025.
  4. (en) "1983 Saint Kitts and Nevis Constitution". pdba.georgetown.edu. Besoek op 11 Februarie 2025.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne