Steierwerk is 'n tydelik konstruksie wat gewoonlik met pype aanmekaar gesit word met die doel om bouwerk te verrig of onderhoud te doen op hoë plekke wat nie maklik bereikbaar is nie. Steiers word ook dikwels gebruik as tydelike stutte in bouwerk. Die bou van steiers is 'n vakgebied wat opleiding vereis om te verseker dat steiers veilig opgerig word. Wêreldwyd is daar gereeld gevalle waar onveilige steierwerk die oorsaak is van ongelukke in die boubedryf en ander nywerhede.[1][2][3] Steiers word gewoonlik gebou deur verskeie staalpype met doelgemaakte koppelstukke aanmekaar te sit en dan doelgemaakte staalplate of gewone houtplanke as loopvlakke te verskaf. Ander materiale soos hout en bamboes[4] is voorheen gebruik vir steierwerk en in baie wêrelddele word dié materiale steeds gebruik.