Stieg Larsson | |
---|---|
Gebore | Karl Stig-Erland Larsson 15 Augustus 1954 Skelleftehamn, Swede |
Sterf | 9 November 2004 Stockholm |
Nasionaliteit | Swede |
Beroep | Joernalis, skrywer |
Webwerf | http://stieglarsson.se/ |
Karl Stig-Erland Larsson, * 15 Augustus 1954 in Skelleftehamn, Västerbottens län; † 9 November 2004 in Stockholm, was 'n Sweedse joernalis en skrywer wat bekendheid verwerf het vir sy optrede teen verregse politieke beskouings en rassisme. In 1991 het hy saam met Anna-Lena Lodenius die boek Extremhögern gepubliseer.
'n Ander belangrike werk was Sverigedemokraterna: de nationella rörelsen wat hy saam met die joernalis Mikael Ekman geskryf het. Daarnaas was Larsson die mede-outeur van die boek Sverigedemokraterna från insidan. Vir die algemene internasionale leserspubliek het Larsson veral met sy speurverhale bekendheid verwerf. Ná sy afsterwe is drie voltooide misdaadromans ontdek, die sogenaamde Millennium-reeks. Die eerste roman in hierdie reeks, Män som hatar kvinnor ("Mans wat vroue haat"), is in Augustus 2005 gepubliseer, die tweede – Flickan som lekte med elden ("Die meisie wat met vuur gespeel het") – in Junie 2006, terwyl die derde en laaste boek – Luftslottet som sprängdes ("Die lugkasteel wat opgeblaas is") – in Mei 2007 verskyn het. Larsson het voor sy afsterwe nog 'n vierde werk in die reeks begin, tog het sy familie ooreengekom dat dit nie gepubliseer sal word nie. Larsson het die romans in 'n koerantonderhoud kort voor sy dood as sy "pensioenversekering" beskryf.
Vanaf 1982 was Stieg as Skandinawië-verslaggewer vir die Britse anti-fascistiese koerant Searchlight werksaam.[1] Hy was daarnaas een van die stigters van die Hill-stigting wat sy naam in 1995 tot Expo-stigting verander het en het sedert 1999 as hoofredakteur vir die tydskrif Expo gewerk.
In die periode tussen 1977 en 1999 was Larsson as grafiese ontwerper vir Tidningarnas telegrambyrå (TT) werksaam. Tenminste tot in die jaar 1987 was hy in die Trotskyȉstiese Sweedse Sosialistiese party (Socialistika partiet, vroeër Kommunistiska Arbetarförbundet - "Kommunistiese Werkersverbond") aktief, maar het die party volgens sy eie bewering uiteindelik verlaat omdat hy nie die beleid van buitelandse Sosialistiese bewinde met twyfelagtige demokratiese legitimiteit wou goed praat nie.