Die Suid-Afrikaanse parlementsverkiesing van 1924 het op 19 Junie 1924 plaasgevind. Tydens die verkiesing is 135 verteenwoordigers vir die Volksraad van Suid-Afrika verkies. Groeiende ontevredenheid met die regering van Jan Smuts lei tot 'n nederlaag vir die regerende party nadat die pro-Afrikaner Nasionale Party en die Arbeidersparty 'n koalisie vorm. Genl. Barry Hertzog en kol. Frederic Creswell stel vervolgens die nuwe regering saam en Hertzog word as die 3de Eerste Minister van Suid-Afrika ingesweer, 'n posisie wat hy tot 1939 beklee. Die koalisie was as die Pakt-regering bekend.