Suid-Afrikaanse filmbedryf

Opelug-bioskoop in Johannesburg.

Die Suid-Afrikaanse filmbedryf verwys na die rolprentwese in Suid-Afrika. Baie buitelandse films is ook oor Suid-Afrika vervaardig (gewoonlik met rasseverhoudinge as tema).

Die eerste Suid-Afrikaanse film wat internasionale lof en erkenning behaal het, was die komedie The Gods Must Be Crazy van 1980, geskryf, vervaardig en geregisseer deur Jamie Uys. Dit speel af in die Kalahari en het die verhaal vertel oor hoe die lewe in die gemeenskap van Boesmans verander word wanneer 'n Coke-bottel, wat uit 'n vliegtuig gegooi word, skielik die mense se lewens ontwrig. Wyle Jamie Uys, wat The Gods Must Be Crazy geskryf en geregisseer het, het ook in die 1970's oorsee sukses behaal met sy films Funny People en Funny People II, soortgelyk aan die TV-reeks Candid Camera in die Verenigde State. Leon Schuster se You Must Joke! films is in dieselfde genre en was eens gewild veral onder die blanke bevolking van Suid-Afrika tydens apartheid.

In Suid-Afrika oorheers Afrikaanse films die plaaslike bedryf, genereer hulle ’n groter inkomste as plaaslike films in enige ander taal, en is die bedryf verantwoordelik vir omtrent 66% van die inkomste wat plaaslike films verdien. In 2014 het die plaaslike filmbedryf R90,4 miljard bygedra tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) en 562 726 werksgeleenthede geskep, wat beteken dat die Afrikaanse filmbedryf ook ’n beduidende bydrae tot Suid-Afrika se ekonomie en die Suid-Afrikaanse gemeenskap lewer.[1]

District 9 is geregisseer deur Neill Blomkamp, 'n voormalige Suid-Afrikaner, en vervaardig deur Lord of the Rings-trilogie-skepper Peter Jackson. Die aksie-/ wetenskapfiksie-film beeld 'n subklas van buiteaardse vlugtelinge wat noodgedwonge in die krotbuurte van Johannesburg woon uit. Die film was wêreldwyd 'n kritieke en kommersiële sukses en is tydens die 82ste Oscar-toekenningsaand benoem vir vier Oscar-toekennings, waaronder die beste film.

Ander noemenswaardige films is Tsotsi, wat in 2006 die Oscar se beste buitelandse rolprent toekenning verower het tydens die 78ste Oscar-toekenningsaand, asook U-Carmen eKhayelitsha, wat die Goue Beer tydens die 2005 Berlynse Internasionale Filmfees gewen het.

  1. Burgert A Senekal, Cornelia Geldenhuys, ’n Kwantitatiewe oorsig oor belangrike rolspelers deur die geskiedenis van die Afrikaanse filmbedryf (1916–2016), Seminare en essays, LitNet, https://www.litnet.co.za/n-kwantitatiewe-oorsig-oor-belangrike-rolspelers-deur-die-geskiedenis-van-die-afrikaanse-filmbedryf-1916-2016/. 2018-06-06

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne