33°22′00″S 22°21′15″O / 33.36667°S 22.35417°O
Die Swartberge is 'n lang bergreeks wat deel uitmaak van die Kaapse Plooigordel. Dit loop oorwegend van oos na wes, en vorm die noordgrens van die halfdroë gebied bekend as die Klein-Karoo. Noord van die reeks lê etlike kleiner plooiings van die Plooigordel – die Elandsberg, Rooirant, Aasvoëlberg, Gamkasberg ensomeer – wat die suidgrens vorm van 'n ander semi-droë gebied, die Koup van die suidwestelike Groot-Karoo. Die gedeelte wes van Die Poort in die Gouritsrivier, insluitend die Seweweekspoort, staan as die Klein-Swartberge bekend, terwyl die langer deel oos van die Gouritsrivier as die Groot-Swartberge bekend staan. Daar is etlike kleiner berge en heuwels in Suid-Afrika, veral in die Kaapprovinsies, wat as "Swartberg" bekend staan.