Swartwoud

Die topografie van die Swartwoud
Ligging in Duitsland

Die Swartwoud (Duits: Schwarzwald, [ˈʃvaʁt͡svalt], ) is 'n groot beboste bergreeks in die deelstaat Baden-Württemberg in Suidwes-Duitsland, begrens deur die Rynvallei in die weste en suide en naby die grense van Frankryk en Switserland. Dit is die bron van beide die Donau- en Neckar-riviere.[1][2]

Dit is die grootste van die Duitse middelgebergtes met 'n oppervlakte van sowat 6 000 km². In die bergreeks word die hoogste bergpieke van alle middelgebergtes in die land aangetref. Die bergreeks hou ook die rekord van bebossing – sestig persent van sy berge en heuwels is dig bebos.[3]

Die Romeine het die dig beboste bergreeks met sy kenmerkende donker naaldbome Silva Nigra genoem – die "Swart (of Donker) Woud", wat vir hulle onheilspellend en byna ondeurdringbaar was. Die Duitse naam Schwarzwald is vir die eerste keer in 868 in 'n dokument van die Switserse klooster St. Gallen gebruik.[4]

Die Swartwoud is die grootste bosgebied in Duitsland en bestaan hoofsaaklik uit denne- en sparbome. Vandag is die Swartwoud een van die gewildste toeristebestemmings in Duitsland.

  1. (de) "Die Wirtschaft im Schwarzwald: Tourismus, Holzwirtschaft und anderes". Schwarzwald Reiseinfo. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 April 2021. Besoek op 11 April 2021.
  2. (de) "Gersbacher Barockschanze". Schwarzwald Tourismus. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Januarie 2021. Besoek op 22 Januarie 2021.
  3. (de) Rolf Goetz: ADAC Reiseführer Schwarzwald. München: ADAC Verlag 2007, bl. 6
  4. (de) Planet Wissen: Schwarzwald

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne