’n Span sterrekundiges onder leiding van Michaël Gillon van die Institut d’Astrophysique et Géophysique aan die Universiteit van Luik[6] in België het TRAPPIST (Transiting Planets and Planetesimals Small Telescope) by die La Silla-sterrewag in Chili[7] gebruik om die ster waar te neem en na eksoplanete te soek.
Deur oorgang-fotometrie het hulle aanvanklik drie aardgrootte-planete ontdek wat om die ster wentel; die binneste twee het ’n sinchroniese rotasie, terwyl die buitenste een blykbaar in die ster se bewoonbare sone of net daarbuite lê.[4][5] Die span het hul waarnemings van September tot Desember 2015 bekendgemaak en hul bevindings in die Mei 2016-uitgawe van die tydskrif Nature gepubliseer.[7][8]
Op 22 Februarie 2017 het sterrekundiges aangekondig nog vier aardgrootte-eksoplanete is om TRAPPIST-1 ontdek. Benewens die TRAPPIST-teleskoop is onder meer die Baie Groot Teleskoop en Nasa se Spitzer-ruimteteleskoop gebruik, en so is die totaal op sewe te staan gebring. Hiervan kom minstens drie in die ster se bewoonbare sone voor. Die ander kan moontlik ook bewoonbaar wees (vloeiende water op hul oppervlak hê).[9][10]