Die talent (Latyn: talentum; Antieke Grieks: τάλαντον, talanton, "skaal", "balans", "som") was een van verskeie antieke eenhede van massa, ’n kommersiële gewig en ooreenstemmende eenhede met ’n waarde gelykstaande aan daardie massa van ’n edelmetaal. Die talent goud was bekend aan Homeros, wat geskryf het Achilles het ’n halwe talent goud aan Antilochos gegee as prys.[1] Dit was min of meer die massa water wat nodig was om ’n amfora te vul.[2] ’n Griekse, of Attiese, talent was 26 kg,[3] ’n Romeinse talent 32,3 kg, ’n Egiptiese talent 27 kg[3] en ’n Babiloniese talent 30,3 kg.[4] Die Bybelse algemene talent wat in die tyd van die Nuwe Testament gebruik is, was 58,9 kg.[5]
’n Attiese talent silwer het die waarde gehad van nege man-jare geskoolde arbeid.[6] Huursoldate in die Hellenistiese tydperk is gewoonlik een dragme per dag betaal. Daar was 6 000 dragmes in ’n Attiese talent.
Die Babiloniërs, Sumeriërs en Hebreërs het die talent in 60 mines verdeel, wat elk weer in 60 sikkels verdeel is. In die Griekse talent was ook 60 mines. ’n Griekse mine was sowat 434 ± 3 gram. ’n Romeinse talent het bestaan uit 100 libres (Romeinse pond). ’n Egiptiese talent is verdeel in 80 libres. [3]