Die Tempel van Artemis of Artemision (Grieks: Ἀρτεμίσιον, Turks: Artemis Tapınağı), ook minder korrek bekend as die Tempel van Diana, was ’n Griekse tempel vir die godin Artemis. Dit was geleë in Efese (naby die moderne dorp Selçuk in die hedendaagse Turkye) en was een van die Sewe Wonders van die Antieke Wêreld. Dit is drie keer herbou voordat dit finaal in 401 n.C. verwoes is.[1] Net die fondament en stukke beelde van die laaste tempel is nog op die terrein oor.