Die Teutone (van Proto-Germaans *Þeudanōz) word genoem as 'n Germaanse stam deur Griekse en Romeinse skrywers, veral Strabo en Marcus Velleius Paterculus, en dan meestal in noue verband met die Kimbers, wat dalk Galliërs of Germane was. Volgens Ptolemeus se kaart het hulle in Jutland gewoon, in ooreenstemming met Pomponius Mela, wat hulle in Skandinawië (Codanonia) geplaas het.[1] Sekere geleerdes het voorgestel dat hulle hul naam verleen het aan die streek Thy (Ou Noors: Thiuthæ sysæl) in Noord-Denemarke.
Reeds voor 100 v.C. het vele Teutone, soos ook die Kimbers, suid- en weswaarts migreer na die Donauvallei, waar hulle met die uitbreidende Romeinse Republiek in aanraking gekom het. Tydens die laat 2de eeu v.C. het die Teutone en Kimbers volgens verslae weswaarts deur Gallië getrek, en Romeinse Italië aangeval. Ná beslissende seges oor die Romeine by die Slag van Noreia en van Arausio het die Kimbers en Teutone van mekaar geskei, waarna hulle in onderskeidelik 102 v.C. en 101 v.C. deur Gaius Marius verslaan is. Dit het 'n einde gebring aan die Kimbriese Oorlog. Die Teutone het hul neerlaag gely by die Slag van Aquae Sextiae, naby die hedendaagse Aix-en-Provence, en hul koning, Teutobod, is gevange geneem.
Die term "Teutoons" is soms gebruik as 'n omvattende verwysing na die Germaanse volke.