The Cure | |
---|---|
The Cure tydens 'n optrede in Singapoer in 2007. Van links na regs: Porl Thompson, Jason Cooper (agter), Robert Smith, Simon Gallup. | |
Agtergrondinligting | |
Oorsprong | Crawley, Sussex, Engeland (VK) |
Genres | New Wave |
Jare aktief | 1976 — hede |
Etikette | Fiction Records (1978–2002) Geffen (2002 – hede) |
Assosiasies | Malice, Easy Cure, The Glove, Siouxsie & The Banshees |
Webwerf | thecure.com |
Lede | Robert Smith Porl Thompson Simon Gallup Jason Cooper |
Gewese lede | Lol Tolhurst Michael Dempsey Matthieu Hartley Phil Thornalley Andy Anderson Boris Williams Roger O'Donnell Perry Bamonte |
The Cure is 'n suksesvolle Engelse rockmusiekgroep wat in 1976 in Crawley, West Sussex (VK) tot stand gekom het. The Cure het in hul loopbaan dertien ateljeealbums en meer as dertig enkelspelers vrygestel. Die groepslidstruktuur het al verskeie kere verander, met Robert Smith (as voorsanger, kitaarspeler en hoofsnitskrywer) as die enigste permanente lid.
In die laat 1970's het The Cure musiek begin vrystel met hul debuutalbum Three Imaginary Boys (1979); hierdie album, tesame met verskeie ander enkelspelers, het die groep in die genreafdeling van die postpunk- en New Wave-bewegings geplaas wat begin kop uitsteek het met die aanvang van die punkrockrewolusie in die Verenigde Koninkryk. Tydens die vroeë 1980's het die groep en sy toenemend donker en sombere musiek 'n kardinale rol in die vorming van die gotiese rockgenre gespeel. Ná die vrystelling van Pornography (1982) was die groep se toekoms onseker en het Smith 'n gretigheid begin ontwikkel om van die duistere beeld wat sy groep in hulself gevestig het, weg te beweeg. Met die 1982se enkelspeler "Let's Go to Bed" het Smith begin om 'n sterker popgevoel in die groep se musiek in te voer. The Cure se gewildheid het toegeneem met die volwassewording van daardie dekade, veral in die Verenigde State waar snitte soos "Just Like Heaven", "Lovesong" en "Friday I'm in Love" op die Verenigde Staatse Billboard Hot 100-trefferlyste verskyn het. Teen die aanvang van die 1990's was The Cure een van die gewildste alternatiewe rockgroepe in die wêreld en, alhoewel hul status in die laaste jare begin afneem het, is daar in 2004 geraam dat meer as 27 miljoen van die groep se albums al van die rakke beweeg het.[1]
“ | Dis so jammer wanneer die naam The Cure nog met "goties" geëtiketteer word. Ons is nie kategoriseerbaar nie. Ek sou kon dink ons was postpunk aan die begin, maar in totaal is dit net onmoontlik […] Ek speel eenvoudig Cure-musiek, watookal dit mag wees. | ” |
— Robert Smith in 2006[2] |
The Cure se grootse musikale kenmerke is as "dominante, melodieuse baslyne; kermende, verstrengelde sang; en 'n liriese obsessie met eksistensiële, byna literêre, wanhoop" vermeld.[3] The Cure word gereeld in die gotiese rock-genre, 'n subgenre van alternatiewe rock, geïdentifiseer, en word as een van hierdie genre se definiërende groepe beskou. Die groep het egter al van tyd tot tyd klassifisering (veral as 'n gotiese rockgroep) verwerp. Smith het selfs sy afkeur vir gotiese rock benadruk deur dit as "verskriklik saai en eentonig. 'n Treursang eintlik." te beskryf.[4] Alhoewel The Cure algemeen as vervaardigers van donkere en sombere musiek bekend staan, het hulle ook 'n aantal geesdriftige nommers vrygestel. Spin-tydskrif het gesê "The Cure was nog altyd 'n óf/óf-tipe musiekgroep: óf […] Robert Smith treur in gotiese verdriet, óf hy lek taai-soet katoenlekkergoed van sy deur-lipstiffie-besmeerde vingers."[5]
Sintetiese klawerborde was sedert Seventeen Seconds (1980) deel van die klank van die groep, en dié het in betekenis toegeneem met hul uitgebreide gebruik op Disintegration (1989).[6]