The Great God Pan
| |
---|---|
![]() | |
Die eerste titelbladsy van 1894.
| |
Skrywer | Arthur Machen |
Land | Brittanje |
Taal | Engels |
Genre | Wetenskapsfiksie Gotiese humor Rillerroman |
Uitgewer | John Lane |
Uitgegee | 1894 |
The Great God Pan is 'n riller- en fantasienovelle deur die Walliese skrywer Arthur Machen. Sy inspirasie vir die verhaal kom van sy ondervindings by die ruïnes van 'n heidense tempel in Wallis.[1] Wat die eerste hoofstuk van die novelle sou word, is in 1890 in die tydskrif The Whirlwind gepubliseer.
Machen het later The Great God Pan uitgebrei en dit is in 1894 saam met 'n ander verhaal, "The Inmost Light", in 'n boek gepubliseer. Die novelle begin met 'n eksperiment om 'n vrou met die naam Mary toe te laat om die bonatuurlike wêreld te sien. Dit word gevolg deur die vertelling van 'n reeks geheimsinnige gebeure en sterftes oor baie jare, wat te doen het met 'n vrou met die naam Helen Vaughan. Op die ou end konfronteer die helde Helen en dwing haar om selfmoord te pleeg. Sy ondergaan 'n reeks onaardse transformasies voordat sy sterf, en daar word onthul dat sy 'n bonatuurlike wese is.
Toe die novelle gepubliseer is, het die pers dit afgekraak as afgryslik vanweë die geïmpliseerde seksuele inhoud daarvan, en die novelle het Machen se reputasie as skrywer geskaad. Van die 1920's af is sy werk krities reëvalueer en The Great God Pan het sedertdien die reputasie gekry van 'n klassieke riller. Resensente het die invloed van ander 19de-eeuse skrywers opgelet en verskillende opinies gevorm oor of dit 'n tipiese Gotiese riller of wetenskapsfiksie is. Die novelle het die werk beïnvloed van rillerskrywers soos Bram Stoker, H.P. Lovecraft en Stephen King, en is twee keer vir die verhoog verwerk.