The Satanic Verses
| |
---|---|
Skrywer | Salman Rushdie |
Land | ![]() |
Taal | Engels |
Genre | Magiese realisme |
Uitgewer | Viking UK |
Uitgegee | 1988 |
Medium | Druk (harde- & sagteband) |
Bladsye | 546 (1ste uitg.) |
ISBN | 0-670-82537-9 |
Voorloper | Shame |
Vervolg | Haroun and the Sea of Stories |
The Satanic Verses is die vierde roman van die Brits-Indiese skrywer Salman Rushdie. Dit is in September 1988 die eerste keer gepubliseer en is geïnspireer deur die lewe van die Islamitiese profeet Mohammed. Nes in sy vorige boeke gebruik Rushdie magiese realisme en het hy van kontemporêre gebeure en mense gebruik gemaak om sy karakters te skep. Die titel verwys na die Sataniese Verse, 'n groep verse uit die Koran oor drie heidense godinne van Mekka: Allāt, Al-Uzza en Manāt.[1] Die deel van die verhaal wat oor die "sataniese verse" (of "duiwelsverse") gaan, is gebaseer op vertellings deur die historici al-Waqidi en al-Tabari.[1]
Die boek is wyd geprys en was in 1988 'n finalis in die Bookerprys (wat deur Peter Carey se Oscar and Lucinda gewen is). Dit het in dié jaar die Whitbreadprys gewen vir roman van die jaar.[2] Timothy Brennan het die werk genoem "die mees ambisieuse roman oor die immigrante-ervaring in Brittanje".
Die boek en sy waargenome godslastering is genoem as motivering vir Islamitiese ekstremistiese bomaanvalle, moorde en opstande en het 'n debat ontlok oor sensuur en godsdiensgemotiveerde geweld. Uit vrees vir onrus het die Indiese regering die invoer van die boek na dié land verbied.[3][4] In 1989 het ajatolla Roeholla Chomeini 'n beroep gedoen om Rushdie se dood. Dit het gelei tot verskeie mislukte sluipmoordaanvalle op die skrywer, aan wie die Britse regering polisiebeskerming gebied het,[5] asook aanvalle op verskeie individue wat met die boek verbind is, insluitende die Japannese vertaler Hitoshi Igarashi, wat in 1991 doodgesteek is. Pogings tot moord op Rushdie het voortgeduur, tot met die aanval op hom in Augustus 2022.