Twin Peaks | |
Die Snoqualmie-waterval, waarnaby baie van die tonele verfilm is. | |
Genre | Drama, misdaad, raaisel, sielkundige riller, bonatuurlike fiksie |
---|---|
Geskep deur | Mark Frost David Lynch |
Met | Kyle MacLachlan Michael Ontkean Mädchen Amick e.a. |
Openingstema | "Falling" |
Komponis(te) | Angelo Badalamenti |
Oorsprong | VSA |
Taal | Engels |
Aantal seisoene | 3 |
Aantal episodes | 48 |
Produksie | |
Vervaardiger(s) | Mark Frost David Lynch |
Produksiemaatskappy | Lynch/Frost Productions Propaganda Films Spelling Television |
Verspreider | Republic Pictures CBS Television Distribution |
Uitsending | |
Oorspronklike kanaal | ABC |
Twin Peaks is ’n Amerikaanse televisiereeks wat deur Mark Frost en David Lynch geskep is. Dit gaan oor die ondersoek deur spesiale agent Dale Cooper (Kyle MacLachlan) van die FBI na die moord op Laura Palmer (Sheryl Lee). Die eerste episode is op 8 April 1990 in Amerika gebeeldsend. Nog sewe episodes is gewys en daar was ’n tweede seisoen, wat tot op 10 Junie 1991 gewys het. Die titel kom van die klein fiktiewe dorp in Washington waar dit afspeel.
Twin Peaks het een van die topreekse van 1990 geword en het internasionaal goeie resensies gekry. Dit het ’n basis van kultusaanhangers opgebou en het ’n deel van die popkultuur geword waarna in ander TV-programme, advertensies, strokieboeke, videospeletjies, rolprente en liedjies verwys is. Afnemende kykergetalle het daartoe gelei dat ABC daarop aangedring het dat die identiteit van Laura se moordenaar halfpad deur die tweede seisoen onthul word. Die reeks is in 1992 gevolg deur ’n rolprent, Twin Peaks: Fire Walk with Me, wat beide ’n voorvolg en slot vir die TV-reeks was.
Die loodsepisode was no. 25 op TV Guide se 1997-lys van 100 beste episodes van alle tye.[1] Die reeks was no. 45 op TV Guide se 50 beste TV-programme van alle tye in 2002,[2] en is ingesluit in hul 2013-lys van 60 reekse wat te gou gekanselleer is.[3] Twin Peaks was ook in 2007 een van Time se beste TV-programme van alle tye,[4] en dit het no. 49 gehaal op Entertainment Weekly se lys van nuwe klassieke TV-programme[5] en no. 12 van hul lys van die beste 25 kultus-TV-programme van die afgelope 25 jaar.[6]
Soos met die grootste deel van Lynch se werk, veral Blue Velvet, verken Twin Peaks die verskil tussen ’n klein dorpie se skyn van repektabelheid en die meer ongure lewe wat daaragter skuil. Namate die reeks vorder, word die innerlike donkerte van karakters wat aanvanklik onskuldig lyk, ontbloot, en dit blyk dat hulle dubbele lewens lei. Twin Peaks stem ooreen met Lynch se ander werk in die sin dat dit nie maklik in ’n gevestigde genre pas nie. Die verontrustende toon en bonatuurlike elemente herinner aan dié van gruwelprente. Die "kamp", melodramatiese uitbeelding van karakters vol draadwerk wat aan moreel twyfelagtige bedrywighede deelneem, weerspieël ’n bisar komiese parodie op Amerikaanse sepies.
In Oktober 2014 is aangekondig die reeks sal in 2016 vir ’n beperkte aantal episodes terugkeer (dit is later na 2017 geskuif).[7][8] Lynch en Frost het al die episodes geskryf[7] en Lynch sal die regisseur wees.[9][10] Baie van die oorspronklike akteurs, ook Kyle MacLachlan, sal weer in die reeks verskyn.[11]