Kenteken van die Ugandese nasionale krieketspan | |||||||||||||
Bynaam | Cricket Cranes | ||||||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Konferensie | Ugandese Krieketvereniging (UCA) | ||||||||||||
Personeel | |||||||||||||
Kaptein | Riazat Ali Shah | ||||||||||||
Afrigter | Abhay Sharma | ||||||||||||
Internasionale Krieketraad (IKR) | |||||||||||||
IKR-status | Assosiaatlid met T20I-status (1998) | ||||||||||||
IKR-streek | AKV (Afrika) | ||||||||||||
| |||||||||||||
Krieketwêreldbeker-verskynings | 0/13 | ||||||||||||
Kampioenetrofee-verskynings | 0/9 | ||||||||||||
Twintig20s (T20Is) | |||||||||||||
Eerste T20I | t Botswana op Lugogo-stadion, Kampala; 20 Mei 2019 | ||||||||||||
Laaste T20I | t Nigerië op Rwanda-krieketstadion, Kigali; 14 Desember 2024 | ||||||||||||
| |||||||||||||
T20I-wêreldbeker-verskynings | 1/9 (eerste in 2024) | ||||||||||||
Beste uitslag | Eerste rondte (in 2024) | ||||||||||||
T20I-wêreldbeker- kwalifiserings | 5 (eerste in 2013) | ||||||||||||
Beste uitslag | Naaswenner (in 2023) | ||||||||||||
|
Die Ugandese nasionale krieketspan (Engels: Uganda national cricket team; Swahili: Timu ya kriketi ya Uganda), met die bynaam “Cricket Cranes”, is die nasionale krieketspan wat Uganda in internasionale krieket verteenwoordig. Krieket word in Uganda deur die Ugandese Krieketvereniging (UCA, van Engels: Uganda Cricket Association; Swahili: Shirikisho la Kriketi Uganda) beheer. Uganda is sedert 1998 ’n assosiaatlid van die Internasionale Krieketraad (IKR).[4] Saam met Kenia en Namibië is Uganda tradisioneel een van die sterker nasionale Afrikakrieketspanne na die toetslande Suid-Afrika en Zimbabwe.
Uganda het al vroeg in 1914 met ’n internasionale span teen die Oos-Afrikaanse Protektoraat te staan gekom, maar hulle het eers van die vroeë 1950’s af gereeld teen ander spanne begin speel[5] en gereeld reekse teen die plaaslike mededingers Kenia en Tanzanië (destyds Tanganjika) beslis.[6] Van 1966 af het Uganda spelers beskikbaar gestel vir die gesamentlike Oos-Afrikaanse span wat in 1989 die Oos- en Sentraal-Afrikaanse span geword het.
Tydens die IKR-trofee 2001 in Kanada het die land op sy eie deelgeneem. Uganda het aan die volgende drie toernooie deelgeneem, wat later in krieketwêreldbekerkwalifisering hernoem is, maar hulle kon nie vir ’n krieketwêreldbekertoernooi kwalifiseer nie. Tydens die Wêreldkrieketliga het Uganda drie keer die Wêreldkrieketliga se afdeling twee gehaal, maar hulle het elke keer na afdeling drie teruggeval. Die span het ook ses keer aan die T20I-wêreldbekerkwalifisering deelgeneem en die 2023-kwalifisering as naaswenner ná Namibië afgesluit, waarmee hulle vir die T20I-wêreldbeker 2024 kon kwalifiseer, hul eerste deelname aan dié toernooi.[7] In dié proses kon hulle onder andere die volle lid Zimbabwe vir die eerste keer klop. Daarmee het hulle ná die volle lede Suid-Afrika en Zimbabwe, asook die assosiaatlede Namibië en Kenia die vyfde Afrikaland geword wat vir ’n internasionale kriekettoernooi kon kwalifiseer. Tydens die T20I-wêreldbeker 2024 kon Uganda Papoea-Nieu-Guinee klop, gelyk aan hul eerste T20I-wêreldbekeroorwinning en eerste oorwinning in enige IKR-toernooi ooit.[8]
In April 2018 het die IKR besluit om aan al sy lede volle T20I-status toe te ken. Vervolgens sal al die T20I-wedstryde wat Uganda ná 1 Januarie 2019 teen ander IKR-lede speel, as ’n volle T20I erken word.[9] Uganda is tans (Januarie 2025) 22ste op die Twintig20-wêreldranglys.[10]