Vasari-korridor

Die oorbrug van die Vasari-korridor vanaf die Palazzo Vecchio na Uffizi
Die Vasari-korridor van binne, soos gesien vanaf die Uffizi-galery in die rigting van Palazzo Pitti.

Die Vasari-korridor (Italiaans: Corridoio Vasariano) is 'n oorhoofse, afgeslote korridor wat bo-op en/of dwarsdeur geboue in Florence, Italië, opgerig is. Dit verbind die Palazzo Vecchio met die Palazzo Pitti. Die korridor begin by die suidekant van die Palazzo Vecchio, sluit by die Uffizi-galery aan en kom aan die suidekant daarvan uit, kruis die Lungarno dei Archibusieri en volg dan die noordoewer van die Arnorivier tot by die Ponte Vecchio, waar dit die rivier oorsteek. Oorkant die Arnorivier beslaan die korridor 'n deel van die fasade van die Kerk van Santa Felicita. Die korridor strek bo-oor rye huise in die Oltrarno-distrik, en word dan nouer om uiteindelik by die Palazzo Pitti aan te sluit. Tydens die konstruksie van die korridor moes daar van steunarms gebruik gemaak word om dit buite-om die Torre dei Mannelli te bou, omdat die eienaars van die toring geweier het dat daar aan hulle toring veranderings aangebring mag word.

In 2016 is die korridor om veiligheidsredes gesluit;[1] daar word beoog om dit weer in 2021 vir toeriste oop te maak.[1]

  1. 1,0 1,1 "Florence's 'secret' Vasari corridor to open to the public in 2021". www.thelocal.it (in Engels (VK)). 20 Februarie 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Junie 2020. Besoek op 26 Februarie 2019.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne