Voedselsekuriteit is die mate waarin kos beskikbaar is en waarin ’n individu toegang daartoe het. Volgens die Verenigde Nasies se komitee oor wêreldvoedselsekuriteit word voedselsekuriteit gedefinieer as die mate waarin alle mense te alle tye fisieke, sosiale en ekonomiese toegang het tot genoeg, veilige en voedsame kos wat voldoen aan hulle kosvoorkeure en dieetbehoeftes vir ’n aktiewe en gesonde lewe.[1] Nog een is die beskikbaarheid van kos ongeag klas, gender of streek. Daar is bewyse dat voedselsekuriteit duisende jare gelede al belangrik was toe antieke China en antieke Egipte kos wat geberg is, in tye van hongersnood beskikbaar gestel het.
Op die Wêreldvoedselkonferensie in 1974 is die term "voedselsekuriteit" gedefinieer met klem op verskaffing; dit is gedefinieer as die "beskikbaarheid te alle tye van genoeg, voedsame, uiteenlopende, gebalanseerde en gematigde wêreldvoorrade van basiese voedsel om ’n bestendige toename in voedselinname vol te hou en om wisselings in produksie en pryse teen te werk".[2] Latere definisies het aanvraag en toegang tot die definisie bygevoeg. Die finale verslag van die Wêreldvoedselberaad in 1996 verklaar voedselsekuriteit bestaan "wanneer alle mense te alle tye fisieke en ekonomiese toegang tot genoeg, veilige en voedsame kos het om te voldoen aan hulle dieetbehoeftes en kosvoorkeure vir ’n aktiewe en gesonde lewe".[3][4]