Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
Die Weltenburger Enge is 'n vernouing van die Donauvallei in die Neder-Beierse distrik Kelheim wat amptelike erkenning geniet as natuurbewaringsgebied en geotoop.[1] Oor 'n afstand van vyf kilometer vloei die Donau hier deur tussen 40 en 100 meter hoë kalksteen-rotswande uit die Juratydperk. Tussen die oorhangende rotse met talle grotte is daar steil beboste hellings.
Die rivierravyn is in die suide van die bergreeks Fränkische Alb tussen Kelheim en die Klooster Weltenburg geleë. Die Donau het hier deur die eeue al dieper in die kalksteenrotse ingekerf en 'n landskap gevorm wat as een van die laaste grotendeels onbeboude Donau-rivierlandskappe 'n toevlugsoord vir talle seldsame plant- en dierspesies geword het, waaronder die sogenaamde "vuurwerkplant" of wit diptam (Dictamnus albus) en oehoe.
Kulturele besienswaardighede soos die Klooster Weltenburg vorm 'n onskeibare simbiose met die ongerepte natuur en maak van die landskap die enigste in Beiere waaraan 'n Europa-diploma toegeken is. Nogtans dra die kulturele trekpleisters, wat jaarliks honderdduisende besoekers lok, by tot die konflikpotensiaal wat toerisme vir die natuurbewaringsgebied inhou.