Kenteken van die Wes-Indiese nasionale krieketspan | |||||||||||||||||
Bynaam | Windies,[1] Men in Maroon[2] | ||||||||||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Konferensie | Krieket Wes-Indië (KWI) | ||||||||||||||||
Personeel | |||||||||||||||||
Toetskaptein | Kraigg Brathwaite | ||||||||||||||||
EDI-kaptein | Shai Hope | ||||||||||||||||
T20I-kaptein | Rovman Powell | ||||||||||||||||
Afrigter | Andre Coley (toets), Daren Sammy (EDI- en T20I-krieket)[3] | ||||||||||||||||
Geskiedenis | |||||||||||||||||
Toetsstatus verkry | 1928 | ||||||||||||||||
Internasionale Krieketraad | |||||||||||||||||
IKR-status | Volle lid (1926) | ||||||||||||||||
IKR-streek | Amerikas | ||||||||||||||||
| |||||||||||||||||
Toetse | |||||||||||||||||
Eerste toets | t Engeland op Lord’s, Londen; 23–26 Junie 1928 | ||||||||||||||||
Laaste toets | t Australië op The Gabba, Brisbane; 25–28 Januarie 2024 | ||||||||||||||||
| |||||||||||||||||
Wêreldtoets- kampioenskappe | 2/2 (eerste in 2019–2021) | ||||||||||||||||
Beste uitslag | 8ste plek (in 2019–2021 en 2021–2023) | ||||||||||||||||
Internasionale eendagwedstryde | |||||||||||||||||
Eerste EDI | t Engeland op Headingley, Leeds; 5 September 1973 | ||||||||||||||||
Laaste EDI | t Australië op Manuka-ovaal, Sydney; 6 Februarie 2024 | ||||||||||||||||
| |||||||||||||||||
Krieketwêreldbeker-verskynings | 12/13 (eerste in 1975) | ||||||||||||||||
Beste uitslag | Kampioen (in 1975 en 1979) | ||||||||||||||||
Wêreldbeker- kwalifiserings | 2 (eerste in 2018) | ||||||||||||||||
Beste uitslag | Naaswenner (in 2018) | ||||||||||||||||
Kampioenetrofee-verskynings | 7/9 (eerste in 1998) | ||||||||||||||||
Beste uitslag | Kampioen (in 2004) | ||||||||||||||||
Twintig20s | |||||||||||||||||
Eerste T20I | t Nieu-Seeland op Edenpark, Auckland; 16 Februarie 2006 | ||||||||||||||||
Laaste T20I | t Suid-Afrika op Sir Vivian Richards-stadion, North Sound; 23 Junie 2024 | ||||||||||||||||
| |||||||||||||||||
T20I-wêreldbeker-verskynings | 9/9 (eerste in 2007) | ||||||||||||||||
Beste uitslag | Kampioen (in 2012 en 2016) | ||||||||||||||||
|
Die Wes-Indiese nasionale krieketspan (Engels: West Indies cricket team) is die nasionale krieketspan wat Wes-Indië in internasionale krieket verteenwoordig. Die span staan bekend as die Wes-Indiese Eilande of, in die omgangstaal, die Windies, met die bynaam Men in Maroon (“Manne in maroen”). Dit is ’n multinasionale krieketspan in ’n sportkonfederasie wat die onafhanklike lande Antigua en Barbuda, Barbados, Dominica, Grenada, Guyana, Jamaika, St. Kitts en Nevis, St. Lucia, St. Vincent en die Grenadine en Trinidad en Tobago, asook die oorsese gebiede Amerikaanse Maagde-eilande Anguilla, Britse Maagde-eilande, Montserrat en Sint Maarten verteenwoordig. In die meeste van hierdie eilandstate is krieket die nasionale sport, hetsy de facto of de jure. Vervolgens gebruik die Wes-Indiese krieketspan nóg een van die lande se volksliedere, nóg een van hul vlae as ’n verteenwoordigende simbool; pleks daarvan gebruik die Wes-Indiese nasionale krieketspan sy eie vlag – dié van Krieket Wes-Indië – en lied. In internasionale krieket is daar net twee ander spanne wat meer as een krieketland verteenwoordig: Engeland (vir beide Engeland en Wallis) en Ierland (vir beide die Republiek Ierland en Noord-Ierland).
Krieket word in Wes-Indië deur Krieket Wes-Indië (CWI, van Engels: Cricket West Indies) geadministreer. Hulle is die enigste volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) in die Amerikas en die vierde oudste nasionale span in toetskrieket. Tydens die 1928-seisoen het hulle hul toetsdebuut gemaak, toe Wes-Indië op Lord’s hul eerste toets teen Engeland gespeel het. Wes-Indië is tans (Junie 2024) agtste op die IKR-toetsranglys, tiende op die eendagranglys en vierde op die Twintig20-wêreldranglys.[12][13][14]
Vanaf die middel-1970’s tot die vroeë 1990’s was die Wes-Indiese span een van die sterkstes ter wêreld in beide toets- en internasionale eendagkrieket. ’n Hele aantal voormalige spelers, beskou as van die beste in die wêreld, is afkomstig van die Wes-Indiese Eilande. 21 voormalige Wes-Indiese spelers is in die Internasionale Krieketraad se Heldesaal opgeneem.[15]
Die Wes-Indiese Eilande het die IKR se Krieketwêreldbeker twee keer verower (in 1975 en 1979, toe dit die Prudentialbeker was), die IKR Twintig20-wêreldbeker twee keer (in 2012 en 2016), en beide die IKR Kampioenetrofee (in 2004) en die o/19-krieketwêreldbeker (in 2016) eenkeer. Hulle was die eerste krieketspan om die krieketwêreldbekertoernooi twee keer te wen, maar hul rekord is later deur Australië se vyf wêreldbekeroorwinnings verbeter en deur Indië in 2011 geëwenaar. Wes-Indië is ook die eerste span wat twee agtereenvolgende wêreldbekertoernooie gewen het, dit is sedertdien oortref deur drie agtereenvolgende wêreldbekeroorwinnings deur Australië (in 1999, 2003 en 2007). Wes-Indië was die eerste span om in drie agtereenvolgende wêreldbekertoernooieindstryde te verskyn (in 1975, 1979 en 1983), sedertdien oortref deur vier agtereenvolgende wêreldbekertoernooieindstrydverskynings deur Australië (in 1996, 1999, 2003 en 2007). Die Wes-Indiese Eilande het beide die Krieketwêreldbeker 2007 en die T20I-wêreldbeker 2010 gehuisves; hulle het die onlangse o/19-krieketwêreldbeker 2022 aangebied. Saam met die Verenigde State het hulle ook die T20I-wêreldbeker 2024 aangebied. In Junie 2019, gedurende die Krieketwêreldbeker 2019, het die Wes-Indiese Eilande in hul 800ste EDI-wedstryd gespeel.[16] Nadat Wes-Indië tydens die Krieketwêreldbekerkwalifisering 2023 nie die eindstryd gehaal het nie, was die Krieketwêreldbeker 2023 die eerste toernooi sonder Wes-Indiese deelname.