'n Robot (in die konteks van Wikipedia) is 'n program wat kontak met Wikipedia het oor die web. Dit verwys dus nie na die programme wat op die bedieners van die Wikimediastigting loop nie. Robotte word byvoorbeeld gebruik om interwiki-skakels in stand te hou, aangesien hierdie proses maklik geoutomatiseer kan word.
Mense is egter vir meeste take beter as robotte en die gebruik van robotte moet beperk word om te verseker dat sulke tegnologie slegs gebruik word tot die verbetering van Wikipedia. As 'n robot byvoorbeeld gebruik word om 'n klomp artikels outomaties te vertaal, sal dit bloot beteken dat daar klomp swak vertaalde artikels bygekom het.
Dit is belangrik om te besef dat die beleid vir die gebruik van 'n robot heelwat verskil tussen verskillende tale van Wikipedia. Dra altyd sorg om eers die beleid van 'n spesifieke projek uit te vind en dit te volg. Omdat 'n outomatiese proses wysigings baie vinnig kan aanbring, word beleid gespesifiseer vir die beskerming van die projek. Die blokkering van robotte en die terugrol van robotte se wysigings kan baie makliker geskied aangesien 'n veronderstelde negatiewe impak moontlik baie groter kan wees.