Willem Adriaan van der Stel | |
2de Goewerneur van die Nederlandse Kaapkolonie
| |
Ampstermyn 2 November 1699 – 3 Junie 1707 | |
Voorafgegaan deur | Simon van der Stel |
---|---|
Opgevolg deur | Johannes Cornelis d’Ableing (waarnemend) |
Persoonlike besonderhede
| |
Gebore | 24 Augustus 1664 Amsterdam, Nederland |
Sterf | 11 November 1733 (op 69) Lisse, Nederland |
Eggenoot/-note | Maria de Haes |
Religie | Nederduits Gereformeerde Kerkfamilie |
Willem Adriaan van der Stel (ook gespel Wilhem Adriaen van der Stel[1]) was 'n ongewilde goewerneur van die Kaap die Goeie Hoop.
Hy is in Amsterdam gebore as die oudste seun van Simon van der Stel in 1664 en sy vader in die ouderdom van 15 na die Kaap die Goeie Hoop vergesel. Sy eerste pos hier was as kassier van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie. Hy het sy vader as goewerneur opgevolg in 1699.
Sy voorliefde vir boerdery is vrye teuels gegee en hy het 'n lieflike landgoed tot stand gebring by Vergelegen, naby die huidige Somerset-Wes. Die omvang van sy bedrywighede en sy persoonlikheid het aanleiding gegee tot klagtes, wat op die spits gedryf is in 'n klagskrif wat deur 63 burgers aan die Here XVII in Nederland gestuur is in 1705.
Van der Stel het die situasie nie goed hanteer nie en Adam Tas, tesame met talle ander leiers gevange gehou. Die goewerneur is na Nederland ontbied vir 'n ondersoek. Ondanks sy lang geskrewe verdediging is die uitspraak teen hom gelewer. Daar is beslag gelê op Vergelegen en dit is verkoop, en hy is ontslaan uit die diens van die Kompanjie in 1707. Hy het op landgoed Uitermeer, in Lisse (provinsie Zuid-Holland) gesterf in 1733. Mens kan sy en sy vrou se graf besigtig in die Hervormde Kerk in Lisse.
Die Van der Stels was stellig die vernaamste goewerneurs wat die Kaap tot in daardie stadium gehad het. Meer as 30 jaar lank ná hulle het hul opvolgers nie so 'n belangrike rol in die geskiedenis van die Kaap gespeel nie.