Willem III & II | |
---|---|
Prins van Oranje Koning van Engeland, Ierland en Skotland | |
Willem III deur sir Godfrey Kneller.
| |
Titel | Prins van Oranje |
Regeer | 14 November 1650 – 8 Maart 1702 |
Voorganger | Willem II |
Opvolger | Johan Willem Friso |
Titel | Koning van Engeland, Ierland en Skotland |
Regeer | 13 Februarie 1689 – 8 Maart 1702 |
Voorganger | Jakobus VII & II |
Opvolger | Anna |
Mede-monarg | Maria II |
Vrou | Maria II |
Huis | Oranje-Nassau |
Vader | Willem II |
Moeder | Maria |
Gebore | 14 November 1650; Den Haag |
Oorlede | 8 Maart 1702, Londen |
Willem III (14 November 1650 – 8 Maart 1702) was ’n soewereine Prins van Oranje van geboorte. Vanaf 1672 het hy as stadhouer Willem III van Oranje oor Holland, Zeeland, Utrecht, Gelderland en Overijssel van die Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande regeer. Hy het vanaf 1689 as Willem III oor Engeland en Ierland regeer en as Willem II oor Skotland.[1] Willem was van die Huis van Oranje-Nassau en het die Engelse, Ierse en Skotse troon bestyg ná die Glorieryke Rewolusie, waarin sy oom en skoonpa Jakobus II afgesit is. Hy het in dié lande saam met sy vrou, Maria II, regeer tot met haar dood op 28 Desember 1694.
Willem was ’n Protestant en het aan verskeie oorloë teen die magtige Katolieke koning van Frankryk, Lodewyk XIV deelgeneem in koalisie met Protestantse en Katolieke magte in Europa. Baie Protestante het hom beskou as die voorvegter van hul geloof. Dit was grootliks danksy hierdie aansien dat Willem die Britse trone kon oorneem te midde van ’n vrees vir ’n herlewing van Katolisisme onder Jakobus. Sy bewind was die begin van die oorgang van die persoonlike regering van die Stuarts na die meer parlement-gesentreerde regering van die Huis van Hannover.