Wolodimir Zelenski Володимир Зеленський | |
![]() Wolodimir Zelenski in 2024 | |
6de President van Oekraïne
| |
Ampsbekleër | |
Termynaanvang 20 Mei 2019 | |
Voorafgegaan deur | Petro Porosjenko |
---|---|
Persoonlike besonderhede
| |
Gebore | 25 Januarie 1978 Kriwi Rih, Sowjetunie (tans Oekraïne) |
Politieke party | Sloeha Narodoe - Dienaar van die Volk |
Eggenoot/-note | Olena Zelenska (∞ 2003) |
Kind(ers) | 2 |
Alma mater | Nasionale Ekonomiese Universiteit van Kijif (departement in Kriwi Rih) |
Handtekening | ![]() |
Wolodimir Oleksandrowitsj Zelenski (Oekraïens: Володи́мир Олекса́ндрович Зеле́нський;[nota 1] gebore 25 Januarie 1978 in Kriwi Rih) beklee sedert 20 Mei 2019 die amp van Oekraïense president. Hy is 'n voormalige akteur en komediant.[1]
Zelenski het as 'n Russiessprekende Jood grootgeword in Kriwi Rih, 'n groot stad in die Dnipropetrofsk-oblast in Sentraal-Oekraïne. Hy het 'n graad in die regte verwerf en later 'n loopbaan in die media- en rolprentbedryf gevolg as akteur, draaiboekskrywer, televisieaanbieder en rolprentvervaardiger. In 2003 het hy die rolprentateljee Студія Квартал-95 (Stoedija Kwartal-95) gestig, wat rolprente, strokiesprente en TV-programme vervaardig. Daaronder was die TV-reeks Dienaar van die Volk, waarin Zelenski die rol van die Oekraïense president vertolk. Die reeks is van 2015 tot 2019 uitgesaai en was uiters gewild. Werknemers by Kwartal-95 het in Maart 2018 'n politieke party met dieselfde naam as die TV-reeks gestig.
Zelenski het sy kandidaatskap in die Oekraïense presidentsverkiesing van 2019 op die aand van 31 Desember 2018 aangekondig, op dieselfde tyd as die nuwejaarstoespraak van die destydse president, Petro Porosjenko. Hy was 'n politieke buiteperd, maar het reeds in meningspeilings een van die voorlopers in die verkiesing geword. Hy het die verkiesing met 73,23% van die stemme in die tweede ronde gewen, en daarmee het hy Porosjenko geklop. Hy het sy veldtog gevoer as 'n persoon teen die establishment en teen korrupsie.
As president was Zelenski 'n voorstander van e-regering en eenheid tussen die Oekraïens- en Russiessprekende dele van die land se bevolking.[2](p11-13) Sy kommunikasiestyl is om sosiale media, veral Instagram, baie te gebruik.[2]:7-10 Sy party het kort ná sy beëdiging as president 'n groot oorwinning in die parlementêre verkiesing van 2019 behaal.
Tydens sy presidensiële veldtog het Zelenski beloof om die uitgerekte konflik tussen die Oekraïne en Rusland te beëindig en het hy probeer om 'n dialoog met die Russiese president, Wladimir Poetin, aan te knoop.[3] Toenemende spanning met Rusland het egter in 2021 sy administrasie in die gesig gestaar, en dit het gelei tot die Russiese inval in Oekraïne in 2022. Zelenski se strategie gedurende die opbou van Russiese aggressie was om die Oekraïense bevolking te kalmeer en die internasionale gemeenskp te verseker dat Oekraïne nie wraak sal neem nie.[4]
Ná die begin van die inval het Zelenski die krygswet in die hele Oekraïne afgekondig en 'n algemene mobilisasie van die weermag aangekondig. Hy is internasionaal wyd geprys vir sy leierskap in die krisis en beskryf as 'n simbool van die Oekraïense weerstand.[5][6]
Zelenski is in 2022 aangewys as die tydskrif Time se Persoon van die Jaar, en volgens meningspeilings was hy Oekraïne se beste president nog.[7][8]
Verwysingfout: <ref>
tags exist for a group named "nota", but no corresponding <references group="nota"/>
tag was found